Beeld
JPO spoggerig met Gueller en
Grace
Dit is net menslik dat die hoë standaard wat die Johannesburg
Philharmonic in die afgelope twee, drie jaar gevestig het nie altyd
gehandhaaf kan word nie: daar is té veel elemente (soos die
dirigent, die uiteenlopende orkeslede en die bepaalde repertorium) om
te alle tye dié gehalte te waarborg.
Die derde JPO-seisoen vanjaar het tot dusver goeie resultate gelewer,
maar niks uitsonderliks nie. Tot gisteraand, met die Duitse dirigent
Bernhard Gueller op die podium en die Kaapstadse kitaarspeler James
Grace as solis.
Voorste kitaarsoliste is oor dekades in die Goudstad gehoor in Rodrigo
se Concierto de Aranjuez, met weergawes van Narciso Yepes, Alirio Diaz,
Angel Romero en meer onlangs Craig Ogden. Grace beskik oor ’n
veilige tegniek, maar wat sy weergawe bó die gewone verhef,
is ’n fynsinnge aanvoeling vir die wese van die musiek
– die “con spirito” van die eerste deel
netjies verpak in ’n positiewe klankbeskrywing van koninklike
ambience; die lomerige skildering van die annekserende Adagio het gewen
aan lenige frasering; en die slot-Allegro is delikaat, maar met
’n byna vurige dansmantigheid aangehits. Die
ingetoë, hoogs musikale solistiese benadering het die concerto
bo ’n vertoonstuk laat uittroon.
Rodrigo se orkestrale meesterstuk steun, in die aard van
kitaarconcerto’s, swaar op balans met die solis. Hier was
Gueller se leiding van die orkes onberispelik. Die verbintenis tussen
houtblasers en kitaar kan soms probleme skep, maar die
frekwensie-beheer in dié orkesseksie was in die kol.
Dié ontvanklike en toegewende verhouding tussen die twee
dinamiese kragte – solis en dirigent-orkes – het
’n besonderse resultaat bepaal: een van die seldsame lewende
uitvoerings uit eie bodem wat tuishoort in bogenoemde solistiese
geselskap.
…’n Aand in die Linder om te onthou.
Thys Odendaal, Beeld, 2008
back